In hierdie verhaal oor die besoek uit die Ooste lees ons van sterrekykers, ons lees van koning Herodus, ons lees van Jerusalem en van Bethlehem, ons lees van Maria en haar Kindjie, ons Kindjie, ons Here en Redder. Ons lees van ons Verlosser, en het jy vandag, soos die sterrekykers jare gelede, die begeerte om aan Hom hulde te bewys?
Die sterrekykers verteenwoordig ‘n lewe van soek. ‘n Lewe opsoek na iets meer. Is jy dalk tussen al hierdie Kersfees klokkies en liggies opsoek na iets meer, iets meer as ‘n pakkie toegedraai in blink papier?
Die sterrekykers let toe op in hulle soeke dat daar eweskielik ‘n buitengewone ster begin skyn het en volg die ster na Jerusalem waar hulle vir koning Herodus en sy priesterhoofde en skrifgeleerdes ontmoet.
Wat hier in die eerste plek opgelet moet word is dat dit God is wat hierdie sterrekykers aan gelei het tot Herodus en sy priesterhoofde en skrifgeleerdes. Die ster, of die natuur, staan bekend as God se algemene openbaring. God openbaar Homself aan ons deur die natuur, net soos Hy Homself aan die sterrekykers openbaar het in die vorm van ‘n ster. Sien jy die Here raak as jy by jou venster uitkyk? Voel jy Hom in die wind?
Die skrifgeleerdes stuur toe die sterrekykers in die rigting van Bethlehem omdat hulle die profesie van Miga geken het:
“En jy, Bethlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”
Wat ons hier in die tweede plek kan oplet is dat die Here Homself aan die sterrekykers ook openbaar deur Sy spesifieke openbaring. Die Skrif. Deur die Woord van God weet die sterrekykers om na Bethlehem toe te gaan. Dit is die volgende stappie in hulle soeke na iets meer. Soek jy ook na die Here se leiding in die Skrif? Lees jy jou Bybel?
Wat duidelik is, is dat die Here met die sterrekykers gepraat het deur die natuur en deur Sy Skrif, en altwee openbarings (die algemene en die spesifieke) het mekaar bevestig. So as jy in jou soeke wonder of dit jou emosies is wat jou in ‘n sekere rigting stuur, toets dit teen die algemene en die spesifieke openbaring. Bevestig die twee mekaar. Hoor jy dieselfde in die natuur as wat jy in jou Bybel lees? Indien nie, gaan terug, luister weer, lees weer. Wees geduldig.
God gee vandag nog vir ons “sterre” om ons te help met Goddelike rigting vir ons lewens.
• Hy gee ons heilige onrustigheid oor dit wat verkeerd is.
• Hy gee ons ‘n soeke na dit wat langdurig is. Hy het ‘n verlange na die volhoudbare in ons ingebou, eerder as ‘n lus vir kitsoplossings.
• Hy gee ons ‘n soeke na betekenis.
Ons sal nooit werklik tuis wees totdat ons nie ons tuiste in God gevind het nie. Die sterrekykers daag on suit om erns te maak met ons soeke. God daag ons uit om eerlik te wees oor ons verlange.
Die sterrekykers het alles agtergelaat om die ster te volg. Hulle het vreemdelinge vrae gevra en leiding op hulle pad gekry. Hulle het tyd, moeite en energie belê in hulle soeke. En hulle het selfs hulle eie veiligheid gewaag deur teen die wens van Herodus in te gaan en ‘n ander pad huistoe te neem.
Is jy bereid om jou ou lewe agter te laat om die aanwysings van God te volg? Is jy bereid om te erken dat jy nie alles weet nie, en vra te vrae oor jou soeke, al mag dit dalk jou onkunde, jou weerloosheid ontbloot? Is jy bereid om tyd, moeite en energie te belê in jou soeke? Is jy bereid om jou ou lewe te waag vir die nuwe lewe?
Die sterrekykers se soeke, en hulle volg, het hulle na Christus gelei.
Waarna lei jou lewe?
Ons laat toe dat ons soeke na geld, die perfekte vakansie, of geskenke in die pad kom staan.
Die sterrekykers het nie net vir Jesus gevind nie, maar ook hulself aan Hom oorgegee. Toe hulle by Maria en Josef aan kom het hulle voor Jesus gekniel en geskenke aan Hom gegee.
Goud, wierook en mirre.
Goud wat dui op sy koninskap. Jesus is as Koning van die Jode gebore. Mirre wat dui op sy menslikheid. Mirre is gebruik as olie om die lewe van ‘n mens beter te maak, dit is veral gebruik om die reuk van ‘n bed aangenaam te maak, en spesiaal rondom die huwelik. Daarom dui die mirre op sy menslike behoeftes. Wierook wat dui op sy Goddelikheid. Wierook is aangesteek in die tempel in ‘n goue bakkie wanneer offers gebring is.
En so dui die drie geskenke elkeen op ‘n aspek van wie Jesus Christus, Immanuel, God met ons, is. Koning. Mens. En ook God.
Die geskenke stel hulle oorgawe aan Hom voor. Oorgawe aan God lei tot ‘n dieper belewenis van God self. Om te skuif van ‘n selfgesentreerde lewe na ‘n lewe van oorgawe aan God vra konstante oorgawe.
God wil hê dat ons na Hom soek. Hy wys die heeltyd vir ons merkers, bordjies, uit op ons pad. Merkers wat die rigting na Hom toe wys. Gaan jy Hom soek? Is jy bereid om jou ou lewe agter te laat om Hom te gaan soek? Om Hom te volg?
God ontmoet ons in ons soeke na Hom. Hy omarm ons met groot liefde. Wanneer ons daarna streef om Hom te soek en onsself aan Hom oor te gee, dan kan die wonderwerk van Kersfees elke dag in ons en deur ons plaasvind.
Ons kan Hom vind. En ons kan by Sy voete kniel en onsself oorgee aan Hom.
Wanneer laas het jy gesoek na die padtekens wat die rigting na Christus aandui? Wanneer laas het jy jouself aan Hom oorgegee?
Amen.