Markus 4: God wil weet… Wat is jou naam?

Woensdag 4 Junie

 

God wil weet… Wat is jou naam?

 

Skriflesing: Markus 4:35-5:20

 

Jesus het sopas sy mag getoon deur dat Hy die storm op die see stilgemaak het. In hierdie gedeelte bewys Hy sy almag deurdat Hy die storm in ‘n mensehart ook tot bedaring bring. Hy vra hier ‘n baie persoonlike vraag wat ‘n aaklige toestand aan die lig bring…

 

As ons kyk na hierdie man, dan sien ons sy adres is: Legio, die Kerkhof, Gesara. Verskriklik om aan te dink. ‘n Man vol duiwels, totaal onbeheers, oorgegee aan sy sondige drange en drifte, vol woede, agressie, dwalende, skreeuende tussen die grafte. Ons weet dat hy homself met klippe gekap en beseer het, dat niemand hom kon tem nie. Hy was uitgestoot, mense het hom soos ‘n pes vermy.

 

On sweet ook van hom dat hy vir Jesus bang was, want hy roep uit: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God?” Wat ons natuurlik opval is dat hy nie dadelik om redding smeek nie. Hy wil eintlik alleen gelaat wees. Tipies as die bose sy mag oor mense gooi: Hulle wil alleen gelaat wees. Nie die dominee, of ouderling, of diaken moet in die naam van Jesus Christus by hulle kom nie. Die mag van sonde is verskriklik, maar dit is Jesus wat self uit liefde en deernis met hierdie sondaar optree en Hy stel aan hom ‘n baie persoonlike vraag.

 

Wat is jou naam? Die vraag kon  netsowel gewees het, wat is jou toestand? ‘n Baie ontblotende vraag: Wie is jy? Wie is jy ten diepste? Hoe lyk jou hart?

 

Legio was die man se naam. Hy was genoem volgens ooreenstemming met sy aard: Hulle was baie duiwels in hom, Legio. As ons name moes kry volgens ons toestand van ons harte, wat sou ons name gewees het?

 

Annette die skinnertong, Paul die jaloerse, Piet die moordenaar, Ansie die selfsugtige, Ongelowige, Twyfelaar, Fariseer, Moeilikheidmaker, Grootprater…

 

Jesus kom staan voor jou en vra: Wie is jy ten diepste? Wat is jou naam? Antwoord op sy vraag! Nou! Maak jou hart oop! Wanneer laas het Jesus voor jou kom staan? Vir die mens wie  sy hart oopmaak voor Jesus kom daar wonderike woorde, Openbaring 3:20 se: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak sal Ek by hom ingaan en saam met hom ‘n feesmaal hou, en hy saam My. Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op die troon laat sit.”

 

Jy is nuutgemaak! Jy het die oorwinning behaal deur die beheer van jou lewe rustig in die hande van Jesus te plaas. Jy leef nie meer nie! Jesus Christus leef in en deur jou! Kyk bietjie na jouself: Kyk met nuwe oe na jouself:

  • Jy het van jou eie troon afgeklim en sit nou rustig by die voete van Jesus. Rustig praat jy met Hom, jy is veilig.
  • Jy het ander, nuwe, sigbare tekens, oorwinnaarsklere gekry. Mense sal nou met die eerste oogopslag kan sien dat j yonder Sy liefdevolle hande deurgegaan het.
  • Jy sal nie meer lee, hol, niksseggende lawaai maak nie, jy sal Jesus se woorde in jou mond he, en jy sal praat.

 

Jesus wil jou ‘n nuwe naam gee, ‘n nuwe identiteit. Wat sal jou naam wees? Hoe sal jy by jou werkers bekendstaan? By die rolbalklub? By jou vriende? Hoe sal jy bekendstaan? Jy sal se: “Ek is nou ‘n nuwe mens. Die oue het verbygegaan, kyk alles het nuut geword.” My naam is: Christen! Jesuskind!

 

Jy kry ‘n nuwe naam, identiteit, ‘n nuwe vriendekring. Jy kom tuis. Hemel kom aarde toe! ‘n Feesmaal saam met die lewende Jesus Christus!

 

Wat is jou naam? Wie is jy ten diepste?

 

Ek het die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” – Jes 6:8

 

Amen.

 

Ons bid nou dat die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle sal wees en bly.

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *