Sommer op die heel eerste bladsy van die bekende werk van Thomas Moore se Care of the Soul skryf hy: “Die groot siektetoestand van die twintigste eeu waaruit al ons problem spruit, wat ons, nie net as individue nie, maar ook as die samelewing raak, is dat ons ons siel verloor het.” Thomas Moore waarsku ons dat wanneer sielsdinge afgeskeep word, sterf dit nie maar net ‘n stille dood nie. ‘n Afgeskeepte siel laat haarself nie so maklik flous nie, sy manifesteer op verskeie plekke as simptome om te wys iets is fout: as obsessies, verslawings, geweld en ja, ook in die gevoel van betekenisloosheid.
Stories van mense wat besete is, is moeilik om vandag oor te vertel, want ons ervaar nie vandag demone soos dit in die Bybel beskryf is nie.
Al die demone wat Jesus konfronteer het egter drie dinge in gemeen met mekaar.
- dit veroorsaak self-destruktiewe gedrag.
- dit laat jou vasgevange voel.
- jy word van die normale samelewing afgesonder
Klink dit nie bekend nie? Sukkel baie van ons nie met dieselfde soort dinge nie?
As ons “demone” herdefinieer as dit wat ons vasvang en ons verhoed om by God uit te kom, dan is ons omring, en ja besete, deur demone, dieselfde soort wat Jesus tee gekom het in die man in Garasa. Ons demone kan verskillende vorme aanneem: verslawings, obsessies, en detruktiewe gewoontes, en so aan.
Kom ons kyk na die hierdie kaal en besete man wat Jesus tussen die grafte tee gekom het.
- Hy was afgesny van sy familie en die samelewing.
- Hy het nie geleef nie, maar tussen die grafte bestaan, soos die wat binne hulself dood is.
- Ook was hy deur dit wat hom besit die wilde weste in gedryf.
- Hy was alreeds in ‘n lewende dood situasie, geskei van alle mense en die normale lewe.
- Ook het hierdie demone hom seergemaak? In Markus se weergawe van die storie het die man homself met klippe gekap. Watter dinge in jou lewe maak dat jy jouself seermaak? Fisies of emosioneel seermaak?
- Die hartseerste van alles was dat dit wat hom besete het vir Jesus herken het, maar hy kon homself nie daarvan bevry nie. Hy was vasgevang binne in homself.
‘n Man het van die dorp af Jesus tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ‘n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ‘n huis gebly nie, maar tussen grafte.
Hierdie man het kaal voor Jesus kom staan en Hom gesmeek om hom nie te pynig nie. Op ‘n ander plek maak Paulus ook gebruik van hierdie “kaal” taal, wanneer hy praat oor ‘n gymnasium. Maar hoekom gebruik Paulus sulke uitlokende taal wanneer hy oor ‘n gymnasium praat? Juis omdat egte eerlikheid en groei op die plek begin wanneer jy jou naaktheid erken en met ‘n bewustheid daarvan voor Jesus kom staan.
Naaktheid suggereer oopheid en intimiteit. Dit impliseer broosheid. Broosheid is die teenoorgestelde van plastiek en gepoleer. En ek dink dit is hoekom hierdie storie begin met die man wat kaal met Jesus gesels, dit dui op ‘n lewe in die oopte, ‘n lewe wat hy nie probeer wegsteek nie.
Wat probeer jy vir die mense naaste aan jou wegsteek? Waarvoor is jy in jou eie gedagtes bang? Wat is jy bang kom uit as jy in jou slaap praat?
Hierdie broosheid, openheid en onbeskaamdheid is die eerste ding wat verlore gaan wanneer sonde ons storie binnedring. Soos ons met ons eie brose naaktheid gekonfronteer raak, word ons ook verlei om dit weg te steek. Maar hierdie wegsteek keer egter dat ons groei want dit skei ons van God.
Die Here nooi ons uit om kaal te wees, ja, julle hoor reg, die Here nooi ons uit om kaal te wees, heeltemal kaal voor Hom te wees. In Hebreërs 4:12-13 staan daar:
“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê bloot/kaal voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”
Die manier hoe ons van ons ontbloting voor die Here sinmaak het my laat dink aan skool.
Nie lank terug toe ek nog op Laerskool was het ons nog pak gekry, gewoonlik met ‘n lat in die hoof se kantoor. Die maksimum was ses van die bestes. Party van ons het die binneband van ons fietse se wiele uitgehaal, ‘n sirkel daaruit gesny en gaatjies in die sirkel gedruk. Dit het ons dan onder ons broeke ingedruk vir ekstra veiligheid. Hierdie was ‘n gatvel genoem. Die gaatjies sou die klank laat dof klink en die band die pyn minimaliseer, maar as jy gevang was…
Tot my verbasing het die bekende duitse filosoof Soren Kierkegaard van hierdie beeld in sy boeke gebruik gemaak. Hy het gesê dat ons daaraan gewoond geraak het in om die werklikheid van Jesus Christus met gatvalle aan te leef.
Hy sê: “Kan ons nie net eerlik met onsself wees dat ons sulke kenners geraak het om die een na die ander laag, een interpretasie na die ander, tussen ons en die wêreld te plaas, soos ‘n seun wat ‘n laag tussen hom en die lat indruk. Al hierdie interpretasie en herinterpretasie is ‘n gemaklike beskermingsmeganisme tussen ons en die Here se Woord.”
Kierkegaard fokus op die Here se daad van herstel en ons onvermoë om daardie herstel toe te laat. Soos ons Jesus ontdek, vind ons die beeld van God wat in ‘n liefdevolle manier ons wil dissiplineer. Hierdie dissipliene lei tot ‘n lewe van geloofsgewoontes en dissipelskap. Dissipelskap sonder geloofsgewoontes is onmoontlik, maar hoe sal ons hiervan weet as ons heeltyd gatvalle tussen ons en die Here plaas omdat ons nie die totale krag van sy mag wil ervaar nie.
Watter gewoontes of afhanklikhede plaas jy moedswillig tussen jou en die Here sodat jy nie kaal voor Hom hoef te staan nie. Wat gebruik jy om jouself te bedek vir ander, sodat jy nie heeltemal oopkaarte met hulle hoef te speel nie? Is dit vir jou lekker om so ‘n lewe te leef waar jy heeltyd moet wonder hoeveel jy vir wie kan sê? Of sal jy eerder heeltemal kaal, soos die besete man, voor Jesus kom staan sodat Hy jou vry kan maak van hierdie dinge wat jou lewe beheer, sodat Hy jou vry kan maak van die dinge wat jou lewe wegneem en verminder tot ‘n stil en alleen bestaan?
Om kaal te wees het nie net gemeenskaplike implikasies nie, maar veral persoonlike implikasies, en dit beteken jy moet leer om deur daardie beskermingsmeganismes te breek. Sielkundiges leer ons dat ons beskermingsmeganismes gebruik om onsself te verdedig teen uitdagings en groei.
Deur van “ons” te praat is al klaar ‘n beskermingsmeganisme. Deur “ons” taal te gebruik kruip ons van die waarheid weg. Kom ek probeer weer. Deur “ons” taal te gebruik kruip ek soms van die waarheid weg. As ek gaan werk aan my eie naaktheid voor die Here sal ek moet ophou wegkruip agter “ons” taal. Sien julle hoe maklik is dit om weg te kruip?
Hier is ‘n paar tipiese sinne wat ons gebruik om weg te kruip:
- “Jy weet, mense sukkel met rasisme.”
- “Mense is deesdae so besig, hulle kom bitter min by die Here uit.”
- “Mense sukkel met uitreik.”
- “’n Mens is net te moeg om vriendskappe te bou.”
- “Jy weet, mense is so gefokus om reik te word.”
Om vanuit ons naaktheid voor Jesus toe te laat dat Hy met ons werk sodat ons groei, moet ons, ons beskermingsmeganismes laat gaan. Ons moet ons gatvalle uithaal, sodat ons die werklike impak van Jesus op lewens kan voel.
In die gymnasium van God se genade kan ons kaal, voor Hom, oefen. Hierdie oefeninge help ons om ons gatvelle uit te haal en so al kaler, al broser voor God te raak. Dan, en slegs dan, wanneer ons gestroop is van alles wat tussen ons en die Here staan, kan ons in geloofsgewoontes oefen, of soos Jesus self sê, “om te verander en soos kindertjies te word…”
So, ek wil julle weer herinner aan die man tussen die grafte. Jesus het hom daar tussen die grafte ontmoet, kaal, met klomp geeste binne in hom, wat sy lewe geneem het, en gemaak het dat hy slegs bestaan en nie werklik leef nie.
As jy vandag vir Jesus sou ontmoet, sou jou verslawings, obsessies en gewoontes oop vir Jesus gewees het, of gaan jy steeds probeer om dit weg te steek? As jy vandag vir Jesus sou ontmoet, sou jy graag vry wou raak van jou verslawings, obsessies en gewoontes wat in beheer van jou is? As jy vandag vir Jesus sou ontmoet, sou jy bereid wees om jou gatvalle uit te haal sodat jy regtig die krag van God kan ervaar? Of sal jy eerder gemaklik wil kan sit, met al jou verslawings, obsessies en gewoontes steeds binne jou?
As jy vandag vir Jesus sou ontmoet, sou jy bereid wees om jou alles voor hom uit te trek sodat Hy jou weer kan verander om soos ‘n kindjie te wees? Sal jy vandag weer wil lewe met die vryheid en gemaklikheid van toe jy sewe was en tussen die dennebome rondgehardloop het, of die berge uitgeklim het, sonder ‘n bekommernis oor watter storie jy vir wie moet wegsteek. Wil jy vandag verander na die mens wie Jesus jou gemaak het om te wees, voordat die sonde jou lewe binnegekom het?
Soos wat ons Jesus volg gaan ons ‘n proses binne waar ons nuwe waardes wat die goedheid van die Here reflekteer moet aanleer. Ons word kinders van God. En dan moet ons as kinders nuwe dinge aanleer vir die nuwe lewe. Om ‘n kind van God te wees is om op ‘n lewenslange reis van leer te wees; dit is die opgewondenheid van om kaal te leer en te leef. Sonder dinge wat ons terughou kan ons groei, wortels al dieper en dieper in die genade van die Here.
Soos wat ons na kinders kyk, sal ons gou agterkom dat hulle ‘n onversadigbare nuuskierigheid het. [vra wie het familie wat 4jaar oud is?] Onlangse navorsing het gewys dat ‘n vierjarige dogtertjie 390 vrae per dag vrae, wat neerkom op gemiddeld ‘n vraag elke 1 minuut en 56 sekondes van haar wakker dag. Soos wat ons kaal voor die Here groei leer ons ook hoe om die goeie vrae te vra. Ons raak bewus van die wonderlike skatkis van om mekaar goeie vrae te vra.
Hallo! Hoe gaan dit?
Nee, goed dankie en met jou?
Goed, dankie.
Mooi dag vir jou.
Dankie, vir jou ook.
Hol kitswoorde om die eintlike gesprek te vermy, want sê nou net ek moet sê hoe dit met my gaan, hoe dit regtig met my gaan. Ek kan tog nie vir haar vertel wat alles in my lewe aangaan nie. Wat gaan sy van my dink?
Die Here wil juis hê ons moet hierdie stadige luister gesprekke met mekaar hê. Gesprekke wat lank vat, gesprekke wat stadig vorm neem, om deur die ongemaklikheid te luister, en wanneer jy sê, “ek het deesdae al minder woorde” dat sy regtig die diepte van jou ongemak met die saak sal verstaan en sal antwoord met ‘n “kom ons soek saam na nog minder woorde” tot julle albei saam kaal is, gereed, sodat die Here met julle kan begin werk.
Jou gewoontes mag dalk die oorhand oor jou hê, dit mag dalk vir jou moeilik wees om alles uit te trek en ongemaklik voor die Here te staan met niks wat jou beskerm, met niks wat jou beter as die ander een maak nie.
Maar mag kindwees vir jou die deur wees na kaalword. Mag kindwees vir jou die pad wees van los kom van dit wat jou vashou. Mag ons kinders vir jou wys hoe die lewe veronderstel is om geleef te word. Sonder sorge, sonder bekommernis oor more. Kyk maar na Laerskool kinders, hulle is 100% afhanklik van hul ouers, julle was ook 100% afhanklik van julle ouers. En julle het dit oorleef, ons het dit geniet, dit was van die lekkerste tye van ons lewe.
Gary Thomas skryf: “Ons leef tussen heilige onderwysers. Soms spoeg hulle op hulleself of op ons. Soms gooi hulle tantrums. Soms cuddle en soen hulle ons en het ons lief. In die goeie en in die slegte vorm hulle ons hart, vorm hulle ons siel, en nooi hulle ons om God in nuwe en diep maniere te ervaar.”
Hoekom kan jy nie nou soos ‘n kind wees nie? Hoekom kan jy nie nou 100% afhanklik van die Here leef nie, die een wat jou geskep het nie?
Dit mag dalk die tyd wees waar jy los van jou verslawings, gewoontes en besittings kan leef. Dit mag dalk die tyd wees wat jy kaal sonder enige iets wat jou terug hou kan leef. Dit mag dalk die tyd wees wat jy weer soos jou skooldae geniet. Dit mag dalk net die lekkerste tyd van jou lewe wees!
Die Here kom vandag na jou toe, Hy wil dit wat jou besit uit jou uit dryf.
Die vraag is of jy vry wil wees van dit wat jou besit en, of jy bereid is om jouself kaal voor Hom uit te trek, sodat Hy vir jou nuwe klere kan gee?