Johannes 4:1-42

Op ‘n warm, sanderige, woestyn dag, sou hierdie ‘n aangename ruskans vir Jesus gewees het. Dink aan enige tyd toe jy erg moeg was, en regtig ‘n blaaskans vir ‘n oomblik nodig gehad het. Kan jy jou verbeel hoe dit sou wees om yskoue, helder water, reguit vanuit ‘n fontein te proe; skoon, helder, blink en verfrissend?

Verbeel jou dat jy nou in daardie plek is, jy rus, jy voel die moegheid in jou hande, in jou bene, in jou hele liggaam, maar jy voel ook hoe die energie en die lewe terugkom soos wat jy ontspan. En soos jy die koel water stadig begin drink, begin jou kragte te herstel.

Jesus het die Samaritaanse vrou vir ‘n bietjie water gevra, en op hierdie manier ‘n geselsie aangeknoop met die vrou. Sy was verbaas en ook so gesê: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Sy het van ‘n anderse groep mense as Jesus gekom, ‘n minderheidsgroep, waarmee die Jode nie eintlik wou assosieer nie. Die Jode het nie eintlik met die Samaritane gepraat nie, hulle het op hulle neergekyk. En hier maak Jesus, ‘n man van Joodse afkoms, geselsies met die Samaritaanse vrou.

Kan jy dalk iets van jouself in die vrou raaksien? Wat het sy om vir Jesus te bied?

Wat kan jy vir Jesus aanbied?

Jesus het iets in haar raakgesien wat sy nog nie self raakgesien het nie…

Hierdie storie van die Samaritaanse vrou is ‘n ‘tipiese storie’, die storie volg ‘n duidelike patroon. In hierdie geval word die patroon van toekomstige eggenote wat mekaar by ‘n put ontmoet en dan speel die vrou ‘n belangrike rol in die heiligmaking of redding van haar gemeenskap.

Hierdie patroon sien ons op drie ander plekke in die Bybel ook raak:
– Abraham se diensmeisie Rebeka, die toekomstige vrou van Isak, by die put van Nahor in Genesis 24:10-61.
– Jakob wat vir Ragel ontmoet by die put in Haran in Genesis 29:1-20
– En Moses wat vir Sippora ontvang as sy vrou nadat hy Reüel se sewe dogters gered het by die put in Midian in Eksodus 2:16-22.

Hier in die Johannes evangelie ontmoet Jesus die vrou by die bekende put van Jakob in Samaria.

Ons sien ook dat die huwelik metafoor verder uitgebrei word deur die man-vrou, Jesus-Samaria, beeld. Die gesprek wat Jesus met die Samaritaanse vrou voer gaan ook oor haar huwelik, en die woorde wat hulle gebruik dui alles daarop. Woorde soos fontein, water, kruik, vrugbare velde, saai en oes.

Hierdie Samaritaanse vrou tree op as ‘n simboliese karakter in die Johannes evangelie, soos die geliefde dissipel, die soldaat, die verlamde man, en die blindgebore man. Almal sonder name, wat hulle krag om ons ook te verteenwoordig sterker maak.

Vandag verteenwoordig hierdie naamlose Samaritaanse vrou vir ons. Ons wat nie na geluister word nie, ons wie op neergesien word, ons wie stilgemaak word, ons wat in die minderheid is. Hierdie vrou is vandag names ons elkeen in gesprek met Jesus.

Jesus ontmoet haar daar waar sy met haar alledaagse taak, van water aandra, besig is. Hy gaan na haar toe. Jesus daag die sosiale reels van die dag uit deur met ‘n vrou te praat, en dan is sy nog van ‘n ander ras, en dan deel hy nog haar koppie ook. Jesus het grense oorgesteek en die wat Hom volg aangemoedig om dieselfde te doen. Jesus het aktief die klippe uit die pad gerol wat keer dat die koninkryk van God hier op aarde geskied. Soos in die hemel, so ook op die aarde.

Wanneer laas het jy ‘n klip uit iemand se pad gerol na wie daar nie geluister word nie, op wie daar neergesien word, wie stilgemaak word, en wat in die minderheid is?

Jesus het iets in hierdie vrou raakgesien wat sy self nog nie raakgesien het nie, en begin om die klippe uit haar pad te rol sodat Sy Vader, ons Vader, se wil sal geskied.

Die Samaritaanse vrou vra Jesus uit oor wie Hy is, en in vers 26 antwoord Hy haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” In die Grieks, ego eimi, met ander woorde, presies soos in Eksodus 3:14 “Ek is.”

Op die presiese oomblik toe Jesus Homself aan die vrou openbaar kom die dissipels terug nadat hulle in die dorp gaan kos koop het. Hulle is geskok om te sien dat Jesus met ‘n vrou praat. Interessant genoeg is dit nie die feit dat Jesus met ‘n Samaritaan praat wat hulle ontstel nie, maar eerder dat Hy met ‘n vrou praat.

Hierdie was nie die eerste keer wat die dissipels nie beïndruk was met Jesus nie, en sou ook nie die laaste wees nie. Hulle was nie gelukkig oor wat hulle gesien het nie. En toe om hulle verder deurmekaar te maak wou Jesus nie enige kos gehad het wat hulle gebring het nie. Jesus se behoeftes was anders as die behoeftes van Sy dissipels.

Kan jy dalk van jou eie gedrag en reaksies raaksien in die reaksies van die dissipels?

Vers 28: “Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan…”

Soos die dissipels of volgelinge in die ander evangelies, wie se los van nette, bote, ouers, of tolhek stalletjies, simboliseer dat hulle die gewone of ou lewe agter laat om Jesus te volg en dissipels te word, los hierdie vrou haar daaglikse roetine (haar waterkruik) net daar by die put en gaan na die dorp om vir die mense te sê: “Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”

Hierdie sendeling rol van die vrou ontstel die dissipels geweldig, hulle wie Jesus se kollegas was. Jesus het eintlik goed sonder hulle klaargekom. Hy wil nie die kos eet wat hulle bring nie, want hy is reeds versadig deur die gesprek wat hy met die vrou gehad het. Verder sê Jesus vir hulle dat hulle sal moet help met die oes, al is hulle nie deel van die wat saai nie. Eenvoudig is die saai werk reeds deur die vrou gedoen, dit is nie vir hulle om dit te beheer nie.

Soos wat die dissipels in stilte staan word ons vertel dat baie Samaritane tot die geloof gekom het as gevolg van die vrou se getuienis, as gevolg van die vrou se saai werk, in vers 39. Letterlik, in die Grieks, deur die woorde van die vrou wat getuig. Hierdie vrou, die een wat nie na geluister was nie, die een op wie neergesien was, die een wat stilgemaak was, die een wat in die minderheid was, het gaan vertel, het gaan getuig oor haar ontmoeting met Jesus.

Hierdie vrou is die eerste en enigste persoon in die publieke lewe van Jesus, waarvan ons weet uit die Woord, deur wie se getuienis ‘n groep mense tot geloof gekom het. Om te “kom kyk” en “tot geloof in Jesus te kom.”

Die effektiwiteit van haar bediening word uitgelig deur die feit dat die groep Samaritane nie net na Jesus toe gekom het nie, maar Hom ook gevra het om by hulle te bly, waar Hy toe vir twee dae by hulle gebly het.

Wanneer jy dink aan wat Jesus gesê en gedoen het, en nadink oor die idee van lewende water, wat nie net verfris nie, maar opborrel na die ewige lewe, wat borrel op in jou binneste? Wat kom jy agter borrel na bo vanuit iewers diep in jou hart, of in jou siel? Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor.

Jesus het geselsies gemaak met eenkant mense, soveel so dat nog baie ander eenkant mense se harte oorgeborrel het van Sy liefde.

Wat borrel in jou hart? Waarvan loop jou mond van oor?

Dit borrel in my want ek is so bly,
Jesus het my lief.
Vir my’t Hy gesterf en gered van verderf.
Ja, Jesus het my lief.
Dit borrel in my want ek is so bly, Jesus maak my lewe vry.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *