Handelinge 19: God wil weet… Het jy die Heilige Gees ontvang?

Donderdag 5 Junie

 

God wil weet… Het jy die Heilige Gees ontvang?

 

Skriflesing: Handelinge 19:1-8

 

Paulus is in Efese. Daar kry hy hierdie groepie mense en hy vra vir hulle hierdie lewensbelangrike vraag: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hierdie vraag ontbloot die oorsaak waarom daar mense is wat aan die kerk behoort, lidmaatskap het, maar tog twyfel en afdwaal en werelds word en later alleen gelaat wil wees. Hulle is soos saad wat opgekom het, maar waarvan daar tog op die ou end nie ‘n oes van gekom het nie, of soos die kooltjie vuur wat eenkant toe gerol het en uitgedoof het.

 

Kom ons kyk na die klompie mense aan wie hierdie vraag gestel is: Wat het hulle geweet?

 

  1. Hulle het van bekering geweet, want Johannes die Doper het hulle gedoop toe hulle tot bekering gekom het.
  2. Hulle het geloof besit. Paulus vra uitdruklik: “…toe julle gelowig geword het.” Hulle het deur die prediking van Johannes die Doper tot geloof in Christus gekom en Sy volgelinge geword, maar hulle het nog nie ‘n pinksterondervinding gehad nie.

 

Paulus wou egter meer weet. Hy wou weet of hulle geloof eg is, of daar groeikrag is, of daar goeie werke is wat die geloof bevestig, of daar nuwe diepere lewe is, of hulle nie maar net vashou aan die uiterlike vorme van godsdienstigheid nie. Daarom vra hy die vraag: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

 

Wat hier gebeur in Handelinge 19:1-8 is dat Paulus doodgewoon besig was met huisbesoek aan sy lidmate wat in Efese gebly het. En die vraag wat hy vra, is ‘n baie slim een, want so sou hy kon sien hoe die stand van sake is by hierdie gelowiges.

 

Ten minste was hierdie lidmate eerlik. Hulle veins nie ‘n antwoord nie. Nee, hulle erken uitdruklik: “Ons het nie eens geweet dat die Heilige Gees al gekom het nie.” En so bewys hulle eintlik hulle onkunde. Met die antwoord se hulle vir Paulus “Daars werk” En dadelik het Paulus begin om hulle te katkiseer. Dit staan nie alles hier nie, maar toe Paulus klaar vir hulle geleer het oor die bestaan en werk van die Heilige Gees was hulle so oorstelp dat hulle in ‘n geestesvervoering geraak het en in tale gepraat het.

 

Oorwinning! Feestyd! Nou het hulle vir God drie-enig nog beter geken! Nou kan hulle hom nog beter dien!

 

Hoe is dit moontlik dat mense gelowiges genoem kan word sonder om die Heilige Gees te ken? Dit is baie moontlik, so moontlik dat daar in hierdie gebou mense is wat nog nie regtig die Heilige Gees leer ken het en Sy krag in hulle harte ondervind nie! Mense kan vir jare aan ‘n kerk behoort, vir jare, sonder om ooit regtig die Heilige Gees te ken!

 

Waar le die probleem dan? By God? Nee, die probleem le by ons! Want ons weerstaan die Gees. Ons wil Hom nie ken nie, wil nie toelaat dat Hy in ons lewe nie. Dis vir jou goed om in Jesus te glo, maar die Heilige Gees weerstaan jy. Ook, Hy moet net nie teveel karring nie.

 

Hoe werk die Heilige Gees? Kom ek vertel vir julle.

 

Wat doen die Heilige Gees met mense? Hy dring deur tot in die diepste dele van die mens, Hy maak die geslote hart oop. In jou wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak jou wil, wat dood was, weer lewend, wat sleg was, weer goed, wat onwillig was, gewillig, en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk jou wil, sodat jy soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

 

Maar! Jy kan die Heilige Gees weerstaan. Jy kan jou hart verhard en jouself nie tot sy beskikking stel nie. Jy kan hel toe gaan as jy wil?

 

Maar God wil dit nie he nie. Die Here wil he dat jy die volheidslewe sal smaak. Dat jy nuut sal dink, nuut sal leef, nuut sal wees!

 

Die vraag is duidelik: Jy wat al jare lidmaat is van die gemeente: Het jy al die Heilige Gees ontvang? Het jy Hom al ‘n kans gegee om jou lewe kragdadig te verander en nuut te maak? Het jy? Dit is die vraag!

 

Amen.

 

Ons bid nou die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap en krag van die Heilige Gees met julle sal wees en bly.

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *