Lukas 2:1-7

Ons almal ken die eeue oue verhaal, soos dit vanuit verskillende perspektiewe deur die evangelies vir ons vertel is. Matteus wat vir die gelowiges in Palestina skryf, vir die Jode wat Christus verwerp. Markus wat vir die gelowiges in Rome skryf wat vervolg word en allerlei vernederinge moet verduur vir hulle geloof. Maar vandag staan ons vir ‘n oomblik stil by die evangelie wat aan Lukas toegeskryf word.

Lukas wat volgens die tradisie die geneesheer en metgesel van Paulus was op sy reise, daarom vind ons sy naam in Handelinge, Handelinge wat dan ook volgens tradisie aan Lukas toegeskryf word. As geneesheer, of dokter, was hy ‘n geleerde man en goed in staat om onder die leiding van die Heilige Gees die evangelie te boek te stel.

Die evangelie van Lukas se karakter is om te vertel dat Jesus die Redder van die wêreld is. Die stamboom van Jesus wat ons in Lukas vind word ook teruggevoer tot by Adam, die vader van alle mense, en daarom bring hy ook redding vir almal wat glo. By die geboorte van Jesus sing die engele “vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae” (2:9). Hierdie wys vir ons dat Lukas nie net vir die hoog geagte Theophilus geskryf het nie, maar vir ‘n baie groter leserskring.

Met die aankondiging van Jesus se geboorte stuur die Here die engel Gabriel om die boodskap aan Maria te bring. Op daardie stadium is Maria verloof aan Josef en hulle bly in Nasaret in Galilea. Josef was ‘n afstammeling uit die huis van Dawid. Die engel bring die boodskap aan Maria dat sy swanger sal word en ‘n kindjie in die wêreld bring wat die Seun van die Allerhoogste sal wees. Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie of soos die Psalmdigter se; daar sal aan Sy liefde geen einde wees nie.

‘n Vraag wat dadelik by Maria opkom en wat sy ook vir die engel vra is: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? Die engel gee ‘n eenvoudige antwoord aan haar, dat die Heilige Gees die saadjie in haar sal kom plant, want geen ding is vir God onmoontlik nie. Maria antwoord toe die engel en sê: Hier is die diensmaagd van die Here, laat dit met my gaan volgens u woord. Is jy soos Maria bereid om jouself totaal en al, liggaam en siel, vir die werk van die Here op te offer?

Vanuit die oogpunt van Maria kan daar ‘n hele klomp vra gevra word, en was sy waarskynlik gebombardeer met vrae. Hoe kan ek ‘n kind kry as ek nog nie ‘n man het nie? Wie gaan vir die kindjie sorg? Wat gaan my verloofde, Josef, dink as ek vir hom sê dat ek swanger is? Wat gaan die mense sê?

Hierdie is alles vrae wat in ‘n splitsekonde deur Maria se gedagtes moes flikker terwyl die engel Gabriel voor haar staan. En tog met die eenvoudige verduideliking dat geen ding vir God onmoontlik is nie, nie eers om Elisabet swanger te maak op haar gevorderde ouderdom nie, aanvaar sy die boodskap in geloof en bied haarself as diensmaag vir die Here aan. Sy sê immers: Laat dit met my gaan volgens U woord. Kragtige woorde uit die mond van iemand wat pas gehoor het dat sy swanger gaan raak buite die huwelik en sonder haar man.
Hierdie is woorde wat getuig van ‘n geloof gesetel in die lewendige God! Kan jy onthou hoe dit voel om met vrede in jou hart antwoorde op moeilike vrae te kan antwoord?

In die daaropvolgende dae het daar ‘n bevel uitgegaan van Keiser Augustus dat elkeen na sy eie stad toe moes gaan om opgeteken te word in die eerste sensus van goewerneur Sirenius. Dit het beteken dat, Josef wat uit die stam van Dawid kom, hy en Maria, wat hoog swanger was, na die stad van Dawid na Bethlehem toe moes reis vir die sensus.

Vanuit die perspektief van ‘n man kan daar nou weer ‘n reeks vrae gevra word. Hoekom moet ons nou terwyl Maria hoog swanger is op so ver reis gaan? Sê nou net ons kom nie betyds in Bethlehem aan nie? Wat as ons donkie dalk ingee langs die pad? Wat as ons padkos opraak, of ons donkie word gekaap deur rowers? Agter elke bos is daar deesdae ‘n kamera, ag ek bedoel ‘n rower. Ons donkie het nie lugversorging nie… Dalk moet ons maar by die huis bly?

Watter verskonings het jy al alles uitgedink om nie die pad wat God vir jou wys te volg nie, watter verskonings het jy al uitgedink sodat jy in jou gemaksone kan bly?

Net soos Mattheus, vertel Lukas dat Josef aanvaar het wat God die Vader aan Maria deur die krag van die Heilige Gees gedoen het en met eerbied vir die wordende Kind, haar in sy beskerming geneem het en aan haar getrou gebly het. Lukas maak dit duidelik dat Josef die Kindjie van Maria onder sy sorg geneem het.
Hierdie eerbiedige daad van Josef, om op hierdie lang en gevaarlike reis te gaan na Bethlehem voer Josef uit, met al die vrae in sy gedagtes, maar hy voer dit deur geloof uit. Deur geloof in die Here wat hy weet groter as hy en sy klein gedagtes is. Josef kan nie anders as om deur geloof na Bethlehem met sy hoogswanger verloofde Maria te gaan nie.

My vraag vandag is, watter vrae leef in jou gemoed? Watter vrae keer dat jy nie kan stilword in jou binneste langs hierdie pragtige waters nie. Watter vrae maak dat jy eerder skeinglimlag as om uit jou maag te skater? Hoekom is dit vir jou so moeilik om stil te word en vrede te vind in God se woorde vir jou?

Die verblyf in Bethlehem sou net tydelik wees, maar in daardie dae het die tyd gekom dat Maria haar Kind in die wêreld moes bring. In die herberg, of soos ons vandag sou sê; gastehuis, was daar geen plek nie. Nie Lekkeslaap of AirBnB het enige openinge gehad nie. Die enigste plek onder dak was in ‘n stal. In hierdie armoedige omgewing, sonder huislike geriewe, word die Kindjie gebore. Nes enige ander kindjie. Hy is hulpeloos en geheel en al van sy moeder afhanklik. Sy draai Hom dan in doeke toe en lê hom in die krip neer, omdat daar geen wiegie vir Hom gereed staan nie.

Jesus se pa en ma was eenvoudige mense in die Joodse gemeenskap. Hulle het nie in Hilton gebly of die nuutste donkie uit die stalle van BMW gery nie, nee hulle was goed gelowige mense wat in die Heilige krag van die Lewende God geglo het. Hulle het hulle vertroue in die Here geplaas. Met die engel Gabriel wat aan Maria verskyn en noem dat sy swanger gaan wees glo sy wat hy vir haar sê en verklaar dat sy die wil van die Here sal uitleef. Josef aanvaar ook wat van hom gevra word, om deur geloof te leef dat die reis na Bethlehem suksesvol sal wees en Maria nie seer sal kry op reis daarheen nie.

Ons sing dat al was ons nie daar nie, weet ons dat dit waar is. Van die krip en Maria, die Kindjie, die engele, en van Jesus Christus ons Redder, ons Verlosser, dat Hy vrede sal bring, vir jou en my, elke dag. Vrede wat die vrae in ons gemoed sal stil maak. Vrede wat daardie vreesaanjaende vrae sal verdryf.

Mag jy vandag besef dat jy daardie vrede van God wat Jesus Christus vir ons elkeen bring kan beleef deur in geloof die belofte van die Here Jesus te vertrou. Deur geloof te vertrou op die dinge wat jy nie kan sien nie, deur te leef, nes Maria en Josef.

Daar was waarskynlik vrae, by Maria en Josef, soos daar vandag by ons ook is. Maar hulle het tot dusvêr in die geloof die belofte van God aanvaar; hulle was bereid om Hom nog verder te vertrou. Is jy bereid om Hom te vertrou vir jou vrede, wat jou hart sal laat sing?

Die evangelie van Lukas vertel vir ons dat Jesus in ‘n stal gebore is omdat daar geen ander verblyf beskikbaar was nie. Jesus se geboorte herinner ons daaraan dat God ons nie alleen laat wanneer dinge moeilik gaan nie, maar eerder daar saam met ons is. Jesus is Immanuel, “God met ons” in watter gemors ons ook al mag beleef. Ons hoef nie meer voor te gee dat alles ok is nie. God is in ons gemors, en wil daar wees.

Gemors kom ons lewens binne op verskillende maniere. Gemors kan ons lewe inkom oor sondige besluite en die verwoestende gevolge wat daarmee saamgaan. Al laat ons vrye wil ons toe om ons eie keuses te maak, laat dit ons nie toe om die gevolge van ons keuses te kies nie. Gemors kom ons lewe ook binne, deur die besluite van ander. Hoe gereeld neem ons lewe nie ‘n wending aan nie as gevolg van vinnige of harde woorde van ‘n vriend of familie lid nie?

Gemors kom ons lewe ook binne deur oorweldigende hartseer oor die verlies van ‘n geliefde. En soos ons ouer raak, raak hierdie verliese al meer, wat maak dat ons al meer en meer alleen voel.

Jesus wil ons in ons gemors ontmoet, sodat Hy ons kan verander. Jesus kom na Saggeüs in ‘n boom en na die Samaritaanse vrou by ‘n put. Hy wil ons ook ontmoet in die gemors van ons lewens om hoop en nuwe lewe aan ons te bring. So hoe kan Jesus ons in ons gemors ontmoet?

Ons moet ons gemors met Hom deel. Maria was onseker. Josef was bang. Hulle het hulle gemors met God gedeel. Soos wat ons ons gemors met Hom begin deel, begin ons die lang pad saam met Hom te stap, en kry die Gees ‘n kans om met ons te werk.

Kersfees gee ons die kans om bewustelik ons morsige lewens vir Jesus oop te maak, en ons gemors ook voor ander te erken. En so word ons gemors dan ons boodskap soos wat ons verduidelik van hoe God ons ontmoet het in ons gemors en ons verander het met hoop vir ‘n nuwe lewe.

God het Maria in haar onsekerheid ontmoet en haar vrede gegee oor die toekoms.
God het Josef in sy vrees ontmoet en hom vrede gegee oor die toekoms.
God wil jou ook, in hierdie Kerstyd ontmoet en aan jou vrede gee oor die toekoms.

Mag jou gemors jou boodskap raak.

So wanneer jy weer die vullis sakke uitsit, herinner jouself van die goeie nuus dat jou gemors die plek is waar God jou wil ontmoet. En dank dan die Here vir Sy genade.

Mag jou gemors jou boodskap raak.

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.