saterdaglaatmiddag

Kombuistafel versier met purper doek,

hy soek ‘n plekkie

om sy tupperwarebakkie neer te sit tussen

ou koerante en boeke van die kerk.

 

Hy druk sy vurk in die Tagliatelle.

Bloedrooi draai hy die tamatie bevlekte stringetjies

spiraal om sy vurk,

en hap.

 

Die potplant basilicum gee

geur aan die grondige ervaring

van die renerige

saterdaglaatmiddag.

 

Gebalde kieste staan hy

op en laat sak die arm,

naald val in die

donker are en draai,

 

draai, draai, draai,

verower klank, stilweees

is soms soet

 

Hy kyk op,

die ritme spat

‘n rooi druppel op sy hand, en smeer

dit oor sy lippe.

 

 

– Francois van Dijk.

nihilisties fatalisties

Kom ons drink ‘n bottel rooiwyn en nog een,

maar wag wie is ons?

Ons is nie.

Wie?

 

Rooiwyn steun die kreatiewe bane

van die nihilistiese neigins na niks,

waarheen hierdie perspektief, realiteit, werklikheid

afstuur.

 

Ek sien kruise, driehoeke, en sirkels

in die lug van vuur hang.

Verlig die ridder op die perd,

sy gaan val!

 

Smekend het haar bloeddruppels die grond gevoed

Die Olyfberg was stil, angsbevange, aan die slaap.

Bid,

sodat julle die versoeking kan weerstaan.

 

 

– Francois van Dijk.

sondagaandstudente

die reuk van wyn sal nooit oud raak nie

vooraf glimlag raas nooit nie

parfuum ruik altyd lekker

meisies se hare lyk altyd mooi

almal groet mekaar

iemand waai ‘n papiertjie verwoed

iemand vee sweet met ‘n sakdoek

iemand voel skuldig

hy het sy kollekte vergeet

almal kyk, (vir) verby mekaar

 

– Francois van Dijk